Die uitvoerende burgemeester van die Tshwane-metroraad, Kgosientso Ramokgopa, se stelling dat daar na konsultasie met onder andere AfriForum konsensus oor die verandering van 27 straatname in Pretoria bereik is, is ? blatante leuen. Ramokgopa se stelling verskyn vandag in die dagblad Beeld.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, was die ANC se voorgestelde lys van 27 straatname wat moet verander, geensins ter sprake tydens enige van die gesprekke wat AfriForum met die burgemeester gevoer het nie.
Kriel het daarop gewys dat AfriForum se standpunt deurgaans was en steeds is, dat daar nie aan straatname met ? besondere kultuurhistoriese waarde getorring moet word nie.
Volgens Kriel sal AfriForum hom nie laat flous deur die verandering van straatname met kultuurhistoriese belang te aanvaar in die lig van vae beloftes dat Pretoria se naam dalk in die poses gered kan word nie. “Sou die metroraad die verandering van die betrokke 27 straatname goedkeur, is AfriForum gereed om dit op elke moontlike wyse teen te staan,” het Kriel bygevoeg.


