Feesvoos
deur Kalf Grobler
Fees op fees op fees… ons volkie het feeskoors.
Mampoerfees, Beesfees op Stella, Withondfees in Graaff-Reinet, Kreeffees, Portfees, kunstefeeste by die dosyne, Innie-Bos en Oppi-wat-ookal… seker ook al iewers ?n Draakfees… Wat?s volgende? Parrafees in Rietvlei en Windpomfees op Sandy Bay?
Daar is al selfs ?n Rimpelfees vir die uitgeworpenes van Oudtshoorn! Hoe ver gaan hierdie feesrimpel nou nog uitkring voor jam-kook-kompetisies of skerpioengevegte dalk die volgende vlaag van lawwighede gaan word.
Het ons ou rugby-en-braaivleisvolkie nou ewe skielik ?n kultuuraanval gekry, tot so ?n mate dat daar om elke hoek ?n kunstefees opskiet? Of is ons so bly dat die Springbokke nog nie teen die Kanariese Eilande verloor het nie dat ons daaroor lus kry vir feesvier. Of is ons feeste maar net formele verskonings vir die dorstiges om uiting te gee aan ?n onblusbare kuierlus?
Die miljoene (voel so) nuwe afrikaanse sangers (waarvan die meeste al ?n CD op die rakke het wat deur ?n ryk oom geborg is vir ?n sestiende verjaardaggeskenk) sing dat hulle tonge hang, SAB en KWV brou en stook dat die sop spat, Antie Sannie se jaffeltjies word landswyd berug en Dagga Dirk se koekies en Geblikte Afrikaans word volksbesit. En die rugby is op die ?biek skrien?.
Van heinde en verre kom hulle…. Potch se manne in Oudtshoorn, en die volstruisboere jaag Potch toe, want Aardklop kan mens darem wragtig nie mis nie.
Mamma, het jy gesien? Die Oesterfees val saam met Boetie se Sportskool week in Mosselbaai. Werk dit nou nie mooi uit nie, miskien kan ons een dag vinnig (Boetie gaan dus maar min van Pa sien) ?n draaitjie in Knysna gaan maak.?
Heerlik, sê ek julle, heerlik. Die ideale gesinsuitstappie, so ?n fees darem. Ma kan die kinders oppas terwyl Pa bietjie vir ?n uur of nege by die Watergat of Akkedisdam of Kobus-se-Gat of die onskuldige RSG-tent ontspan saam met die pêlle, hy werk darem so hard, hy verdien dit mos. ?As ons mekaar DALK(?) mis Mamma, kry ek jou agt-uur vanaand maar by die kar. En as ek dalk so VYF(?) minute laat is, laat die kinders maar solank in die kar slaap. O-ja, hier is vir julle R10. Gaan sit julle nou lekker iewers en eet ietsie en geniet julleself.? ?n Katarsis kom, en dis nie ‘n item op die feesprogram nie!
Ja-ja, dit gebeur ook maar?, sê die wat weet, ?maar wat van al die wonderlike blootstelling wat die gemeenskap kry?? Toegegee, waar anders sal Kleinsus Koekemoer nou die geleentheid kry om haar buitengewone sangtalent uit te stal. Ma Koekemoer sê mos nou al jare dat sy so wens dat sy maar net die geleenthede kon gehad het wat Kleinsus nou op die Visfees in Hentiesbaai (in ?n leë tent) kry. Sy sê dat Ouma Koekemoer altyd gesê het dat sy wat Ma Koekemoer is met ?n mikrofoon in die hand gebore is (en blykbaar ook met pluises in die ore) en dat sy glo dat Kleinsus nou hierdie familietalent tot die hoogtes kan voer wat dit verdien…..klap,klap, klap…. o, skuus, die tent is nie leeg nie, Ma Koekemoer is daar.
En die blootstelling stop nie daar nie. As jy braaf (lees moronies) genoeg is om soveel rissies op die Rissiefees na mekaar in te ryg dat jou keel opswel en jou stembande onherstelbaar beskadig word, haal jy al selfs Monitor op almal se gunsteling stasie, Radio Sonder (masochistiese) Grense. Wonder nogal wat doen hulle by die Mampoerfees? Wie wen? Die ou wat eerste ontvlam? (Hoop nie Pa is allergies vir oesters nie?)
?n Fees is sekerlik ook nie fees sonder ?n ?skaaidaaiwer? met ?n vlag van die borge en ?n rookgranaat nie. Almal staar in die lug op en selfs die wat op die skougronde se hoofpaviljoen teen die dak vaskyk ?ooeee? en ?aaa? asof hulle iets sien. En dan mis die ervare springertjie van Bloemfontein ook net-net die rugbypaal en val hom kaduks op die krieketblad. Hy staan op en maak asof niks gebeur het nie, en almal klap, veral dié op die hoofpaviljoen wat ook nou darem iets kan sien.
Die skoue word feeste en die skoukoninginne word feesprinsesse… of so iets… en die antie is gatvol omdat die titel wat sy sewe-en-veertig jaar terug verower het nie meer bestaan nie en haar foto uit die klubhuis se vertoonkas verwyder is. Tannie, as jou dorp nog ?n skou het… gaan haal maar daardie foto?tjie, hy gaan nie meer lank daar wees nie, die rimpel is op pad… met ?n fees op sy hakke!
Selfs die ou grotes kom ook na die feeste toe, dis nou daardie sangers wie se ooms nie kon bekostig om vir hulle ?n plaat te laat maak nie en hulle eers op ?tiewie? moes wees of liedjies moes sing oor spoke in Uniondale voordat iemand betaal het om na hulle te luister. Maar hulle kom eintlik nie vir die fees nie, hulle kom eintlik net ?n plek soek om te baklei waar daar nie so baie koerantmense is nie. ?n Hofmeyr wat ?n Goosen met die kop slaan agter die skoolsaal se verhoog is nie sulke groot nuus op Pofadder dat dit die rekord pampoen-oes in die kontrei van die plaaslike koerant se voorblad sal afstoot nie.
As Dok Craven nog geleef het, sou daar waarrimpel seker ?n Bliksemfees ter ere van sy hond in Stellenbosch gewees het, en dit het niks met Hofmeyrs en Goosens uit te waai nie, al hou hulle ook hoeveel van die idee. Wie weet, teen die tempo wat die feeste opskiet is dit ook glad nie onmoontlik nie.
Ja, die dinge het verander… ons verlang inderdaad na Dok, en dit verander steeds… jammer Dok…

